Reaksie op Prof, Nelus Niemandt se oproep aan die NG Kerk oor gay lidmate

Hiermee het Prof Niemandt baie duidelik ‘n gesindheid van medemenslikheid en onvoorwaardelike aanvaarding en liefde getoon teenoor die gay/lesbiese gemeenskap. Die impak van so ‘n gesindheid kan nooit onderskat word nie. Prof. Niemandt sal dalk nooit besef watter verrykende, positiewe gevolge sy oproep aan die kerk (NG Kerk) het nie. Hierdie gebaar bied in alle waarskynlikheid, die geleentheid aan vele gay/lesbiese mense die geleentheid om uiteindelik die pyn van die verlede uit te pak, en ‘n stukkie genesing te ervaar.

OUT lewer al vir die afgelope 21 jaar onder andere fisiese- en geestes gesondheidsdienste aan die gay/lesbiese gemeenskap van Pretoria. Uit jare se ondervinding met berading (ongeveer 7 000 beradingsessies), is dit duidelik dat die verwerping van kerk en samelewing talle gay/lesbiese persone groot skade berokken het.

Die skuldgevoelens waarmee hulle dikwels gekonfronteer word, vanweë hul geloof, het ‘n impak op alle vlakke van hul lewens. Van die gevolge is depressie, angs, aggressie, gebroke verhoudings, lae selfwaarde,en intense worsteling. Sommige gee dikwels ook net boedel oor, en gee hulle dan oor aan bandeloosheid, substans-misbruik, en selfs selfmoord. Talle bêre die pyn eenvoudig so diep weg dat daardie emosies net onderdruk word en nooit genees nie. Dit begin meeste van die tyd op ‘n jong ouderdom en vat jare om hanteer te word, indien ooit. OUT het al talle ouers begelei om tot aanvaarding van hulle gay kinders te kom, nadat hulle net soveel emosionele wroeging en pyn beleef het.

OUT is dankbaar dat mense soos Prof. Niemandt die moed het om op te staan en die kerk (NG Kerk) op te roep om ‘n stap vorentoe te neem. Ons wil Prof. Niemandt ook graag ondersteun en ons pleidooi voeg by syne. Ons wil saam met hom pleit dat dit tyd geword het vir die kerk om haar hart oop te maak, om ‘n sagter houding in te neem, om met nuwe oë van liefde en aanvaarding na gay/lesbiese mense en die gay kwessie te kyk. Ons wil pleit dat die kerk mense sal raaksien en hoor, en nie net ‘n kwessie waaroor gedebateer en geargumenteer word nie.

Prof. Niemandt, u is voorwaar ‘n voorbeeld vir ander, en in ons oë ‘n baken van hoop vir talle gay/lesbiese mense.

Johan Meyer
Health Manager
OUT LGBT Wellbeing